PLEKKE

'n Webjoernaal van Petrus Potgieter, oor dit-en-dat en hier-en-daar. Menings rein persoonlik.

2007/05/20

Roomys op die vliegtuig


2007-05-20, 38000 voet bo die Groot Australiese Bog, die groot baai wes van Adelaide waarvan ek die regte Afrikaanse naam ken uit die laerskoolatlas wat ek vir Patat gebring het van Suid-Afrika af. Die vlug van Sydney na Perth neem sowat vyf ure - amper 'n uur langer as die vlug in die teenoorgestelde rigting. Qantas gebruik 'n groot 747, soos 'n mens net soms ook tussen Kaapstad en Johannesburg kry. Hulle het die gawe gewoonte om 'n roomys na die ete te bedien en op binnelandse vlugte is daar hier, soos in Amerika, ook films. Die hoofvlugkelner se aksent is Suid-Afrikaans maar andersins het ek nog nie te baie Suid-Afrikaners gehoor nie - in teenstelling met Londen.


Die mees merkwaardige aan Sydney, waar ek pas vyf aande spandeer het, is die rustigheid daarvan. Dit is só ontsettend aangenaam en beskaafd (let wel - nie noodwendig gekultiveerd nie). Ek het vir die eerste keer verstaan waarom mense soms sê dat Australië in seker opsigte meer Engels is as Engeland. Dít geld die alledaagse ordentlikheid en vriendelikheid wat, ander as dié van die Amerikaners, nie oordrewe is nie en, anders as dié van die Britse hoër klasse, nie met 'n tikkie snobisme gegeur is nie. Selfs in 'n groterige stad soos Sydney lyk dit vir my dat die mense baie samewerkend is en mekaar onderling vertrou. Ek het gaan swem in die Cook & Philip-swembad, op die rand van die middestad, en sover ek kon sien het die meeste mense glad nie van die voorsiene sluitkassies gebruik gemaak nie. Dit is ietwat verstommend in 'n stad van sowat vyf miljoen mense. Die motors stop ook by voetoorgange, soos in Engeland, wanneer 'n voetganger nog net daaroor dink om oor te stap. By die plek waar ek die meeste oggende koffie gedrink het, kan 'n mens sien dat hoërskoolleerlinge op pad skool toe hulle tasse buite op die sypaadjie neersit en ingaan om 'n wegneemkoffie te koop. In Londen sou dít, dink ek, al dekades lank ondenkbaar wees. In Sydney is, soos in Kaapstad, die mense heel ontspanne maar in Sydney is die Kaapse gevoel van ligte smerigheid grotendeels afwesig. Daar is geen snoekreuk of skreeuende viswywe of asemberowende skoonheid of vervalle sjarme nie. Sy is soos 'n meisie waarvan jou ouma (se dominee) sou hou.


Die natuurskoon van Sydney is baie meer subtiel as Kaapstad s'n. Dit manifesteer eerder in pragtige, hoë bome in 'n park in die stad, 'n onverwagse uitsig tussen geboue deur op 'n stukkie water in die hawe of die mooi Nepean-rivierloop naby die onsjarmant benoemde Emu Plains. Potts Point, waar ek tuisgegaan het, is - soos die middestad - skoon en netjies en veilig. Dit grens egter aan die berugte Kings Cross, 'n kwynende rooiligdistrik wat omring word deur lekker ou buurte waar die Sydneybewoners woon en eet. 'n Piepklein woonstel kos sowat R2m maar daar is baie goeie geboue uit die tussenoorlogse jare, amper soos in Joubert Park in Johannesburg, Arcadia in Pretoria of die Stadskom in Kaapstad. Tog kan 'n mens selfs hier die gelykgesindheid van die Australiese samelewing bespeur. Daar byvoorbeeld is 'n vlootbasis in die buurt en 'n mens sien hoe die gewone vlootpersoneel saam met die welaf inwoners van Potts Point vinnig 'n koffie drink. Ek glo nie die matrose eet in die peperduur restaurante van die buurt nie maar dit is asof 'n mens 'n gereeld soldate in uniform by 'n Doppio Zero in Gauteng sou raakloop.

Labels: , ,