PLEKKE

'n Webjoernaal van Petrus Potgieter, oor dit-en-dat en hier-en-daar. Menings rein persoonlik.

2006/07/28

Stap Een

Kirstenbosch (Nasionale Botaniese Tuine, 2006-07-26)

Die einde van 'n briljante (in die oorspronklike sin van die woord, van Frans, briller - brand of skyn) wintersmiddag en ek moet die versoeking weerstaan om poëtiese strofes neer te pen oor die pragtige flora van ons land en sy majestueuse berge. Dít is nie heeltemal die onderwerp van hierdie webjoernaal nie, maar 'n mens moet opmerk hoe die agterkant (in teenstelling met die voorkant, wat Switserse pretensies het) van Duiwelspiek die landskap en berge van streke baie verder noord in Afrika vooruitskou. Dit is asof 'n mens 'n koppie anderkant Lydenburg daar kan sien, of die Aberdares in Kenya. Dalk is die net omdat dit dié deel is wat smiddags die son vang, of dalk juis daarom.

Ek het al in die verlede reisdagboeke bygehou maar ek beoog nie om hierdie joernaal 'n soort bus-vir-bus-vertelling van reise te maak nie. Daar is natuurlik boeke in daardie trant wat ek wel baie geniet het - mees onlangs WEG Louw (derde naam Gladstone - hy moes ietwat aan patriotiese ywer inhaal) se „So ver as 'n engel te perd kan ry” waarin hy 'n reis deur Italië, Griekeland en die Midde-Ooste beskryf. Dié boek is ook 'n reis in tyd, soos enige soortgelyke vertelling dalk móét wees. Die kronkelpaaie deur WEG Louw se wêrelduitkyk (tegelykertyd uiters belese - maar hoe is dit dat hy niks van die Armeense volk geweet het nie? - tog deurspek met Volkse dwaashede waaroor 'n mens hoogstens kan wonder) is minstens ewe interessant as sy motorritte om Damaskus. Hierdie vertelling sal helaas waarskynlik nie anders kan as om van die outeur se vooroordele te openbaar maar nie, maar dit is dan onbedoeld en onvermybaar. Hierdie joernaal word ook nie bloot 'n beskrywing van plekke nie. In hierdie verband is die bestemmings-webbladsye van Jens Friis meer aanskoulik en interessant as wat dié joernaal ooit sal wees.

My doelwit is eerder om iets te skryf oor die doen-en-late van mense (of, desnoods, van hierdie mens) op verskillende plekke, en miskien die interaksie tussen die mense en die plek. Neem, byvoorbeeld, Kapenaars se verhouding tot koue. Vir binnelanders is dit soms erg vreemd aangesien die koue hier nooit regtig ekstreem is nie. Mense loop hier met serpe rond in winkelsentrums wat amper tot liggaamstemperatuur verhit is. Volgens my gaan dit eerder oor 'n gebrek aan warmte as oor daadwerklike koue. Die moderne mens is miskien eerder sensitief vir die somtotaal van die aantal ure sonskyn met temperatuur bo 21°C as vir die gemiddelde of die oombliklike temperatuur. Dít verklaar die Kapenaars se elende, want hulle het bitter min van hierdie ure - vir maande aaneen. Hierdie joernaal begin in iedere geval dan rofweg waar Suid-Afrika se vroegmoderne geskiedenis begin is deur Harry die Strandloper, oftewel Autshumao, sowat 350 jaar vantevore.