PLEKKE

'n Webjoernaal van Petrus Potgieter, oor dit-en-dat en hier-en-daar. Menings rein persoonlik.

2007/06/03

Die plat water van Perth


2007-06-01 Die riviere van Wes-Australië loop maar stadig oor die sanderige vlakte. Daarbenewens is die watertafel is blykbaar hoog. Dis dié dat die riviere in en om die sentrale dele van Perth 'n taamlike groot oppervlakte het maar prakties onbevaarbaar is, behalwe deur klein veerbote en beskeie seiljagte. Onlangs het ek, terloops, opgemerk dat die bote wat Kaapstad se waterkant verbind met Robbeneiland oorspronklik van Perth af is maar ek glo dat die betrokke vaartuie beslis nie rivierpendelbote was nie maar dalk eerder die hawe van Fremantle sou verbind het met die toeriste-eiland genaamd Rottnest. Dié eiland se naam sinspeel op die eerste kontak van Europeërs met dié geweste. Die Nederlanders het hul oorspronklike roete van meer as 12 maande na Indonesië verkort deur vanaf die Kaap suid en dan direk oos te vaar om die heersende winde op daardie breedtegraad te benut. Na duisende kilometer (wat geskat moes word deur boek te probeer hou van die gemiddelde spoed en rigting van die vaartuig) moes die skepe noord swaai om veilig verby die Australiese kus te vaar tot in Batavië (vandag se Jakarta). Baie van diegene wat verkeerd gereken het of ongelukkig was, het skipbreuk gelei aan die kus noord en suid van Perth.


Die einste riwwe wat die ondergang van dié Hollanders was maak die see aan Perth se strande besonder kalm. Weens die wit sand kom Perth se rustige strande amper tropies voor. Volgens my bronne ter plaatse raak dit nooit té druk besig om die strande hier nie en, te oordeel aan die geringe aantal parkeerplekke, ís dit so. Daar is immers niks om die uitbreiding van kusnedersettings na noord en na suid te keer nie (behalwe teenkatting deur die staatsowerhede) en Australië het 'n kuslyn van sowat 25 000km. Die kus hier is buitengewoon ongeskik vir branderplankry maar iets (in die gene?) laat die boorlinge maar probeer. Die Australiërs is so ingestel op sport dat hulle in Queensland selfs baggerbote gebruik om die golwe op sekere strande te verbeter. Behalwe vir die baggerbote in Queensland het die mense hier 'n benadering wat soortgelyk is aan dié van middelklas Suid-Afrikaners. Hulle verkies duidelik dat die strande so ongerep moontlik voorkom en daar is (anders as in Europa) min eetplekke en nog minder drinkplekke langs die see. Ek verkies dit eintlik ook so.


Die varswater van Perth is die tuiste van die mooi swart swaan wat ook op die vlag van die staat te sien is. Die voëllewe van Australië is nogal vreemd. Daar is veral in Perth baie groot en lelike swart kraaie en dan nog papegaaie en so aan. Van dié diere is baie lawaaierig ook en ek mis nogal Pretoria se beskaafde geveerdes. Hopelik plaas ek hierdie webjoernaalinskrywing vanaf Prevelly, 'n kusgehuggie net noord van Gnarabup (wat almal sekerlik ken).